Hokkie word as ‘n klubsport by Louwtjies aangebied vir dogters van graad 4 tot 7 en seuns in graad 7.
Aan die begin van die hokkieseisoen wat in die derde kwartaal vanaf Julie tot Augustus aangebied word, word ‘n hokkiekliniek by die skool gehou. Hierdie kliniek is spesifiek beplan om beginners sowel as gevorderde spelers te ontwikkel.
Mev. Delene Marais, oud OP-speler, keurder en afrigter help met die afrigting van die ligaspelers. Annetjie Groenewald is die organiseerder en ook afrigter, saam met Tina Calitz, Marie-Louise Human, Hanlé du Plessis, Carol Beukes, Sanet Kritzinger en Mia van Heerden. Tydens ligawedstryde op ‘n Dinsdag, tree Ronell Gouws op as koördineerder.
Die hokkieligawedstryde is ‘n vriendskaplike Liga met Laerskole Fairlands, -Fontainebleau, -Unika, -Sharonlea, -Christiaan de Wet, -Jim Fouché en -Esparanza. Die wedstryde vind elke Dinsdag op Louwtjies se velde plaas. Louwtjies vaar goed in hierdie ligawedstryde en eindig meestal in die eerste of tweede plek. Tydens wedstryde help oud-Louwtjie-hokkiedogters en kry so opleiding as toekomstige skeidsregters. Louwtjies het al heelwat provinsiale- en distrikspelers opgelewer soos Marike de Klerk, Leandi Marits (Proteas), Heleen Steyn, Marcel Ries, Lindi Roodt, Caroli Geldenhuys en Briguette Bezuidenhout. Tans speel Elmarie Meyer en Briguette Bezuidenhout vir die D10-span.
Hoewel net die A-span dogters vir die Liga ingeskryf is, word
B-spanwedstryde gereeld gespeel in die Super-vier-byeenkoms teen Fairland, Roodekrans en Dr Havenga.
Mini-hokkie word aangebied vir graad 4 & 5 dogters en volveldhokkie vir graad 6 & 7 dogters en graad 7 seuns.
Elke speler betaal ‘n klubfooi wat die kostes van buitehulp, skeidsregters asook die instandhouding en opgradering van die fasiliteite soos die doelwagterhokke, nette en doelwagterstelle, dek.
Elke speler moet haar/sy eie hokkiestok en –bal hê.
Oefening vind plaas op Maandae en Woensdag. Spesifieke tye word deur die afrigters gereel.
|